ENGLISH    
HERSIENING VAN DIE TAALBELEID
 

Voorlopige verslag van werksaamhede van die Taaltaakgroep Oktober 2007

Sedert 2006 het daar baie gebeur rondom die hersiening van die Taalbeleid van die Universiteit.  Met hierdie oorsigtelike en veral voorlopige verslag wil ons graag die Universiteitsgemeenskap op hoogte bring rakende die nuutste verwikkelinge en die verloop wat ons tot by hierdie punt gebring het. ’n Finale verslag sal beskikbaar gemaak word sodra die Taaltaakgroep se werksaamhede afgehandel is.

In die verslag val die fokus eers op die aard van die konsepvoorstel vir ’n hersiene taalbeleid en daarna word daar perspektiewe gegee op die proses wat tot die voorstel aanleiding gegee het.

Die konsepvoorstel van die Taaltaakgroep, 16 Oktober 2007
Die begin van die proses
Vergaderings van die Taaltaakgroep
Wetenskaplike onderbou
Die verloop van werksaamhede
Oorlegpleging
Waardes en uitgangspunte
Strategiese vertrekpunte
Wat Afrikaans en sy meertalige konteks betref
Taalwoordvoerder
Perspektief op die proses en die uitkoms daarvan

Die konsepvoorstel van die Taaltaakgroep, 16 Oktober 2007
Die konsepvoorstel vir ’n hersiene taalbeleid kan soos volg in perspektief gestel word:

  • Die Taalbeleid word nie wesenlik verander nie.  Die taalopsies in die huidige taalbeleid word behou, maar die bestuur daarvan word verfyn.
  • Die verdeling tussen ’n sentrale taalbeleid en taalplan verval.  Daar is nou net ’n enkele beleidstuk oor taal.
  • Die Taalbeleid word bepaal deur ’n stel vertrekpunte – opgeneem as deel van die beleid self – wat reeds goedgekeur is deur die onderskeie bestuursliggame wat met taalbeleid gemoeid is.
  • VS-omgewings ontwikkel nou hulle eie taalplanne ooreenkomstig die bepalings van die Taalbeleid.
  • Daar word meer aandag gegee aan monitering.
  • Die Taalkomitee se samestelling en verantwoordelikhede word gewysig.

Die Taaltaakgroep beveel hierdie konsep aan na sorgvuldige oorweging van ’n groot versameling getuienis (literatuur, eie ondersoeke, ondersoeke van ander, gesprekvoering, inkoop van deskundige buite-advies, inligting oor koste, ens.) en na sorgvuldige opweging van verskillende opsies wat strek van ’n universiteit wat byna eksklusief Afrikaanstalig is tot by ’n universiteit wat byna eksklusief Engelstalig is, met al die verdelings wat tussen hierdie, vir ons onaanvaarbare, uiterstes moontlik is. Alle getuienis dui daarop dat die Universiteit nie anders kan as om ’n gemengde beleid te hê nie.

Terug na bo

Die begin van die proses
Die hersieningsproses het in 2006 begin toe die Rektor, prof. Chris Brink, ’n taakgroep saamgestel het en hulle opdrag gedefinieer het. Die volgende skakels bied die agtergrondinligting hieroor:

Hersiening van die US se Taalbeleid en -plan
Agtergrond, strukture en opdragte
Taakgroep

In die Taakgroep is dr. Edna van Harte later vervang deur mnr. Robert Kotzé. Naas die Taakgroep het die Viserektor (Onderrig) ook ’n sg. Kalibrasiespan aangewys wat advies kan gee oor die uitvoerbaarheid van bepaalde beleidsvoorstelle. Die Kalibrasiespan rapporteer direk aan die VR(O) en is nie ’n subkomitee van die Taaltaakgroep nie.

Terug na bo


Vergaderings van die Taaltaakgroep
Die Taakgroep het sedert Februarie 2006 in die reël een keer per week vergader, uiteraard met die uitsondering van die tweede semester van 2006, toe werksaamhede volledig opgeskort is.

Terug na bo

Wetenskaplike onderbou
Ten einde ’n behoorlike wetenskaplike onderbou te verseker vir enige hersieningsvoorstelle het die Taaltaakgroep:

  • rekening gehou met ’n uiteenlopende versameling standpunte in die taalbeplanningsliteratuur
  • ’n eie ondersoek, kortweg bekend as die sg. Leibowitz-verslag, gedoen oor die ervaring van die huidige Taalbeleid en -plan
  • gebruik gemaak van buite-adviseurs wat ook spesialiste is op die gebied van taalbeplanning
  • rekening gehou met strategiese gegewens wat ’n impak mag hê op die beleidvormingsproses
  • self kritiese standpunte geformuleer ten einde hulle denke oor bepaalde problematiese aangeleenthede te fokus en ook aan ander bekend te maak

Die Taaltaakgroep het vroeg reeds ’n konseptuele raamwerk ontwikkel wat rigting sou gee aan die beleidvormingsproses. Daar is ook standpunte geformuleer rondom kontensieuse kwessies, soos die aanvaarbaarheid van die sg. T-opsie.

Terug na bo


Die verloop van werksaamhede
Die periode van Februarie 2006 tot Oktober 2007 word gekenmerk deur die volgende fases, momente en gebeurtenisse. Die verloop van die oorlegplegingsproses en die voortgesette werksaamhede van die Taaltaakgroep is by verskillende geleenthede ernstig beïnvloed deur sommige van hierdie gebeurtenisse en aksies. Ek noem hier die belangrikste fases en/of gebeurtenisse wat ’n impak gehad het op die voortgang van die proses:

  • Voorondersoek, oorlegpleging en konseptualisering. Die eerste ses maande van 2006 is veral opgeneem deur voorondersoeke, die inwin van voorleggings en die formulering van waardes en uitgangspunte, en ’n voorlopige konseptuele raamwerk.
  • Die toetsing van bepaalde standpunte. Die belangrikste hiervan was ’n stemming in die Senaat oor standpunte van die Konvokasie, aangevra deur die toenmalige rektor, prof. Chris Brink. Rondom hierdie gebeurtenis het ’n felle taaldebat ontstaan wat ’n beduidende invloed sou hê op die voortgang van die proses.
  • Die totstandkoming van die Vlottenburggroep, wat self ’n alternatiewe konseptuele raamwerk aan die Bestuur van die Universiteit voorgelê het.
  • Die Raadsverkiesing en gesprekke met die UK(R) en die Raad, waarvan die mees belangwekkende gesprek die een was aan die begin van 2007 waar ’n stel vertrekpunte aanvaar en (later) goedgekeur is.
  • Die aanstelling van ’n nuwe rektor. Met die bedanking van prof. Chris Brink teen die middel van 2006 is die proses vir die aanstelling van ’n nuwe rektor aan die gang gesit en het die Bestuur van die Universiteit om strategiese redes besluit om die hersieningsproses op te skort. Die werksaamhede van die Taaltaakgroep is toe vir die grootste gedeelte van die tweede semester van 2006 volledig gestaak.
  • Die onafhanklike Raadsondersoek oor die huidige Taalbeleid en -plan. Vroeg in 2007 is ooreengekom dat ’n onafhanklike ondersoek oor die huidige Taalbeleid en -plan uitgevoer sal word onder die beskerming van die Raad. Hierdie Raadsondersoek sou uitgevoer word op voorwaarde dat die Taaltaakgroep alleen maar op beperkte skaal met hulle werksaamhede sou voortgaan, en dat hulle veral nie in hierdie periode met voorstelle vorendag sou kom of in gesprek sou tree oor voorstelle vir ’n hersiene taalbeleid nie. Weer eens is die geleentheid vir die Taakgroep om dus met oorlegpleging voort te gaan, aan bande gelê. Na ’n aantal vertragings is uiteindelik besluit dat die finale keerdatum vir die afhandeling van die ondersoek 14 September 2007 sou wees, en dat die Taaltaakgroep dus onmiddellik na daardie datum weer sou kon voortgaan met die oorlegplegingsproses. ’n Voorlopige verslag is op 14 September 2007 aan die waarnemende VR(O) oorhandig en die beperking op voortgesette gesprekvoering en die bekendmaking van konsepvoorstelle is opgehef.

Intussen is ’n nuwe nuwe tydskaal vir die goedkeuring van ’n hersiene taalbeleid deur die RBS goedgekeur en aan die Senaat gekommunikeer. Binne die raamwerk van hierdie tydskaal sal die Taaltaakgroep, as deel van die verfyningsproses, verdere gesprekke voer met verskillende rolspelers. Van hierdie gesprekke het sedert 14 September 2007 reeds plaasgevind of is reeds beplan.

Terug na bo

Oorlegpleging
’n Groot prioriteit was uiteraard om ’n oorlegplegingsproses aan die gang te sit wat maksimale inspraak van verskillende rolspelers sou verseker. Die oorlegplegingsproses het ingehou dat daar ’n oop geleentheid gestel is aan die Universiteitsgemeenskap en die breë publiek om voorleggings aan die Taakgroep te maak.  Uiteindelik het die Taakgroep ongeveer 60 voorleggings ontvang van ’n wye verskeidenheid rolspelers, maar die Taakgroep het terselfdertyd kennis geneem van ’n verskeidenheid ander dokumente (waaronder briewe, memoranda en dergelike aan taakgroeplede en ander US-rolspelers en briewe in die media) wat die hersieningsproses sou kon informeer. Hierdie voorleggings en ander bydraes is deeglik bestudeer en het deel gevorm van die data op basis waarvan die Taakgroep uiteindelik hulle voorstelle sou formuleer. Waar dit nodig blyk te wees, sou die Taakgroep ook gesprekke voer met sommige rolspelers ten einde inligting uit te klaar of verdere insette te verkry.  Hierdie gesprekvoering sou in die tweede semester van 2006 plaasvind.

Terug na bo

Waardes en uitgangspunte
Een van die eerste take wat die Taaltaakgroep uitgevoer het, was om te bepaal wat die waardes en uitgangspunte sou wees waarvolgens hulle hulle taak sou uitvoer.
Die waardes en uitgangspunte wat die werksaamhede van die Taaltaakgroep gerig het, was uiteraard voortdurend onder diskussie.  Uiteindelik het die diskoers oor hierdie waardes en uitgangspunte gekulmineer in ’n Raadsgesprek waar ’n stel vertrekpunte goedgekeur is, vertrekpunte waaraan die hersiene Taalbeleid uiteindelik gemeet sou kon word. Hierdie vertrekpunte (soos goedgekeur deur die Raad) is:

Terug na bo


Strategiese vertrekpunte

  1. Dat Visiestelling 2012 as vertrekpunt dien.
  2. Dat die taalbeleid die diversiteitsdoelwitte van die Universiteit behoort te ondersteun.
  3. Dat die Universiteit ’n nasionale bate is wat streef na akademiese uitnemendheid tot voordeel van die hele Suid-Afrikaanse gemeenskap.
  4. Dat taal en taalgebruik die akademiese funksie van die Universiteit behoort te dien en nie andersom nie, d.w.s. dat taal ’n instrument is deur middel waarvan voortreflike onderrig, navorsing en tersaaklike gemeenskapsdiens uitgevoer word.
  5. Dat die taalbeleid kommunikasie vir die doeleindes van effektiewe leer, onderrig, navorsing en administrasie behoort te fasiliteer.
  6. Dat die taalbeleid in die ondersteuning van die onderrigfunksie student- en leergesentreerd moet wees.
  7. Dat die taalbeleid van die Universiteit die demografiese en ander realiteite waarbinne die Universiteit funksioneer behoort in ag te neem.
  8. Dat die taalbeleid die strategiese beplannings- en beleidsbesluite van die Universiteit behoort te ondersteun.
  9. Dat taalbehoeftes in die verskillende omgewings van die Universiteit nie noodwendig dieselfde is nie en dat die taalbeleid vir hierdie behoefteverskille voorsiening behoort te maak.

 

Terug na bo

Wat Afrikaans en sy meertalige konteks betref:

  1. Dat die Universiteit histories aan Afrikaans ’n besondere plek gegee het en nog steeds wil gee en ’n voorkeurbestemming vir Afrikaanssprekende studente wil bly.
  2. Dat die Universiteit meertaligheid sien as ’n onderdeel van die ideale profiel van ’n Stellenbosse student.

 

Terug na bo

Taalwoordvoerder
Ten einde die diskoers oor die hersiening van die Taalbeleid te fasiliteer, is ’n taalwoordvoerder aangestel in die persoon van prof. Russel Botman (toe nog in sy hoedanigheid as Viserektor (Onderrig)). Verskeie taalwoordvoerderstukke oor ’n verskeidenheid onderwerpe het die lig gesien en kan hier geraadpleeg word.

Terug na bo

Perspektief op die proses en die uitkoms daarvan
Die ontwikkeling van beleidsvoorstelle oor so ’n lang periode het dikwels probleme vir die Taakgroep opgelewer. Dit was nie altyd moontlik om ’n behoorlike sin vir oorsigtelikheid te handhaaf nie. Tog is ek tevrede dat die Taaltaakgroep op wetenskaplike wyse en met groot verantwoordelikheid tot ’n finale voorstel kon kom wat in die beste belang van die Universiteit sal wees, sou dit goedgekeur word. Taalbeleid in ’n meertalige omgewing is geen maklike saak nie, en dit is sekerlik nie moontlik om almal tevrede te stel nie.

Ek bedank graag elke enkele lid van die Taakgroep vir die harde en dikwels ondankbare werk wat oor so ’n lang periode met soveel toewyding gedoen is.

Leon de Stadler
Oktober 2007

Terug na bo

 

 

Alle regte voorbehou © 2007 - 2011 Universiteit Stellenbosch
Privaat Sak X1, Matieland, 7602, Suid-Afrika
Tel.: +27 21 808 9111